Beiteltjie – Jaargang 1 – Volume 7

Wat is Beiteltjie.

In hierdie uitgawe:

Inhoud:

Liedjie

SO RY DIE TREIN

Ontdek:

Die Son

Eerstens: hoe weet ons dat die Son om sy eie as draai?  Met behulp van sonvlekke natuurlik.  Die oudste verwysing na sonvlekke kom van China waar hulle reeds 800 v.C. daaroor geskryf het.  Daarna het ‘n Chinese sterrekundige Gan De sonvlekke bestudeer en sy waarnemings in 364 v.C. opgeteken.  Teen 28 v.C. het Chinese sterrekundiges sonvlekke permanent dopgehou en daagliks hul posisie in joernale opgeteken.  Hulle het agtergekom dat die sonvlekke saam met die oppervlakte van die son beweeg!  Die eerste verwysings na sonvlekke in die Weste kom van 300 v.C. wat deur Theofrastus, ‘n student van Plato en Aristoteles opgeteken is.  Daarna was sonvlekke eers weer in 1128 deur Priester John van Worcester in Engeland bestudeer.  Die bestudering van sonvlekke het vanaf die Renaissance ‘n gevestigde studieveld in sterrekunde geword.  Ons weet vandag dat die Son vinniger by sy ewenaar as by sy pole roteer en so weet ons dat die Son se rotasieperiode 33,5 dae by die pole is en 25,6 dae by sy ewenaar is.

Die ontstaan van die Sonnestelsel

Die konsensus onder sterrekundiges is dat die son, planete en meeste asteroïede van ons sonnestelsel vanuit dieselfde oermassa gas en stof ontstaan het. Hierdie massa gas en stof is in die ruimte na ‘n supernova-ontploffing van nog ‘n ouer ster, ingeskiet. Die gravitasie aantrekking van die gas, stof en ruimtepuin van die ontploffing het veroorsaak dat dit in ‘n reuse bol inval. Die uitskiet van die materiaal na die ontploffing is omgeskakel na rotasie van die massa soos die bol saamgetrek het. Hierdie rotasie het die bol
materiaal laat afplat soos die materiaal deur sentrifugale krag sywaarts uitgesprei het om ‘n puinskyf te vorm.

Die grootste massa materiaal in die middel het al hoe warmer weens drukking en hitte geword. Nog meer materiaal is vanuit die wolk na die groeiende massa in die middel deur gravitasie aangetrek. Uiteindelik het hierdie toenemende druk en hitte veroorsaak dat kernfusie plaasvind, en so is die son gebore.

Wat is die Son?

Die Son, wat 1 391 400 km in deursneë is, bevat die oorgrote meerderheid van die massa van die Sonnestelsel.  Ongeveer 99.84% van die Sonnestelsel se massa kom in die son voor, alles anders – die planete, mane, mikroplanete, asteroïede, gas, ys en stof van die Sonnestelsel – bestaan uit die oorblywende 0,16% van die Sonnestelsel se massa.

Die Son bestaan hoofsaaklik uit waterstof (H) en helium (He) – die twee ligste elemente in die heelal.  Ongeveer 71-75% van die son se massa bestaan uit waterstof en 25-27% bestaan uit helium.  Die oorblywende 1-2% van die son se massa is al die ander elemente van die Periodieke Tabel wat ook op die Aarde en al die ander planete voorkom.  Daar is reeds ten minstens 70 van die elemente in die Periodieke Tabel in die Son waargeneem.  Dit beteken dat die Son vanuit die oorblyfsels van ‘n ouer ster moes ontstaan het.

Wanneer eerste generasie sterre uit waterstof ontstaan vorm hulle helium deur kernfusie – net soos wat in ons son gebeur.  Mettertyd word swaarder elemente ook gevorm soos wat die kerne van die atome met mekaar versmelt, terwyl die grootste deel van die energieverwekking van die ster nog steeds deur die fusie van waterstofatome plaasvind.  Alles gaan goed tot yster (Fe) die 26ste element gevorm word – dan word die ster baie onstabiel en begin pols.  As die ster ‘n sekere grootte is en die energie wat opgewek word al hoe groter word, ontplof die ster en vorm ‘n supernova.  ‘n Supernova-ontploffing is een van die grootste bronne van energie waarvan ons weet en dit is in daardie geweldige krag wat opgewek word waartydens die swaarder elemente gevorm word.  Aangesien hierdie swaar elemente in die Sonnestelsel voorkom, weet ons dat dit uit materiaal wat tydens ‘n supernova gevorm het, ontstaan het.

Studies van die optiese spektrum van die son toon absorpsielyne wat aandui watter elemente in die Son voorkom soos wat mens in die prent hierbo kan sien.  Dit is hoe wetenskaplikes reeds in die 19de eeu vasgestel het watter elemente in die Son voorkom.  Sekere absorpsielyne wat hulle in die Son se optiese spektrum raakgesien het, kon hulle nie met enige element op Aarde identifiseer nie.  In 1868 het die Engelse sterrekundige Normal Lockyer besef dat hulle ‘n nuwe element ontdek het en aangesien dit in die Son voorkom het hy dit helium na die Griekse songod Helios vernoem.  Helium is ‘n edelgas en dus kan dit met niks verbind nie en vir daardie rede was dit moeilik om te isoleer en te identifiseer op die gewone skeikundige metodes waarmee meeste ander elemente ontdek is.  Met die koms van beter instrumente en gevorderde tegnieke was helium eers 25 jaar, na sy ontdekking in die Son, op Aarde ontdek.

Die struktuur van die Son

Kern

Die Son is ‘n massiewe bol plasma wat aan die gang gehou word deur kernfusie van hoofsaaklik waterstof om helium te vorm.  Die kern van die Son is ongeveer 139 000 km in deursneë en het ‘n temperatuur van ongeveer 15.7 miljoen Kelvin (absolute zero, die laagste temperatuur moontlik in die heelal, is 0 Kelvin of te wel  -273.15°C of -459.67°F.  Die afkorting vir Kelvin is K).  Wanneer mens van miljoene grade temperatuur praat raak dit irrelevant of jy dit in Kelvin, Celcius of Farenheit meet.  Die oppervlaktemperatuur van die Son is egter slegs 5 800 K, m.a.w. 5 527°C.  Die kern van die Son is soos ‘n reuse kernreaktor waar ongeveer 600 miljard kilogram waterstof per sekonde in helium omgeskakel word.  Ander swaarder atome word ook in die kern van die Son gevorm, maar teen ‘n baie laer tempo. 

Die grootste hoeveelheid, ongeveer 99%, van die Son se energie kom van die kernfusieproses in die kern.  Die massa-energie-omskakelingstempo in die Son vind teen ‘n tempo van 4,26 miljard kilogram materie per sekonde plaas.  Gammastrale en neutrinos beweeg van die kern van die son deur die opvolgende lae, waar dit van die energie verloor tot dit vanaf die fotosfeer in die ruimte in die vorm van lig, ultraviolet, hitte, neutrinos en die kinetiese energie van materie vrygestel word.

Stralingsone

Die stralingsone van die Son kom tussen die kern en die buitenste konveksiesone plaas.  Dit is ook die dikste laag wat die Son opmaak en is ongeveer 315 000 km dik.  Die oordrag van energie van die Son se kern na die buitenste lae van die Son vind deur die stralingsone in die vorm van termiese straling plaas.  ‘n Reuse afname van temperatuur vind binne die stralingsone plaas – vanaf 7 miljoen K naby die kern tot 2 miljoen K naby die konveksiesone.

Konveksiesone

Die konveksiesone van die Son is ongeveer 200 000 km dik en kom tussen die stralingsone en die atmosfeer voor.  Weens die feit dat die sonplasma in die konveksiesone nie dig of warm genoeg is om die hitte-energie van die die stralingsone na die oppervlakte deur middel van straling te gelei nie, word die energie deur konveksiestrome na die oppervlakte vervoer. 

Daar is ‘n tweede reuse afname in temperatuur vanaf 2 000 000°C tot 5 500°C in die konveksiesone.  Die plasma wat op die oppervlakte afkoel word digter en sak na onder in die konveksiesone, waar dit weer verhit word en na die oppervlakte opstyg en in die proses word reuse kolomme of selle met stygende warm plasma in die middel met dalende koeler wande rondom gevorm.  Hierdie hitte-selle is ongeveer 1 500 km in deursneë (alhoewel daar soms grotes van tot 30 000 km in deursneë vorm) en het ‘n min-of-meer seskantige vorm (wanneer ronde voorwerpe teenmekaar in die kleinste area gedruk word is ‘n seskantige ordening die mees energiebesparende konfigurasie – soos in ‘n byekorf waar die ronde selle die digste in ‘n seskantige matrys teenmekaar gepak word) en bestaan vir ongeveer 8 na 20 minute voordat dit verdwyn.  Hierdie miljoene konveksieselle op die oppervlakte van die Son gee dit ‘n korrelrige voorkoms wat sonkorrels of granulasies genoem word (sien die prent van die sonvlek).

Atmosfeer van die Son

Die Son se atmosfeer, wat tydens sonsverduisterings sigbaar is, bestaan uit vyf lae, van binne na buite: die fotosfeer, chromosfeer, oorgangstreek, korona en heliosfeer.

Fotosfeer

Die fotosfeer, wat ongeveer 500 km dik is, se temperatuur is ongeveer 5 500°C.  Die fotosfeer is die Son se sigbare oppervlakte waarvandaan lig uitgestraal word en wat ons kan waarneem.  Die sonvlekke en granulasies is sigbaar in die fotosfeer.  Die fotone wat in hierdie laag deur energieomskakeling gevorm word, ontsnap vanaf die fotosfeer deur die deurskynende atmosfeer van die Son en word as sonlig waargeneem.  Dit is in hierdie laag waar helium eerste in die 19de eeu ontdek is.

Chromosfeer

Die chromosfeer (chroma bedoel kleur in Grieks terwyl phos lig in Grieks beteken) is die ongeveer 2 000 km dik laag wat op die fotosfeer volg.  Die temperatuur aan die onderkant van die chromosfeer is ongeveer 4 000°C maar word al hoe warmer tot dit ‘n temperatuur van 20000°C aan die bokant bereik.  Dit is deursigtig en dus sien mens dit nie raak nie, maar wel die fotosfeer daaronder, maar tydens sonsverduisterings kan mens die chromosfeer as ‘n rooi rand rondom die maan waarneem en as die flits van kleur aan die begin en einde van algehele sonsverduistering.  Die prominensies, sonvlamme, filamente en plasmaboë van die Son is in die chromosfeer sigbaar.

Oorgangstreek

Die chromosfeer en die korona word deur ‘n dun (ongeveer 200 km dik) oorgangstreek geskei waar die temperatuur van rondom 20 000°C van net bo die chromosfeer styg tot rondom ‘n miljoen grade Celcius weens die ionisasie van helium.  Die oorgangstreek kom veral rondom die prominensies, sonvlamme en plasmaboë van die chromosfeer en word gekenmerk aan konstante chaotiese beweging.  Die oorgangstreek is nie maklik waarneembaar van die Aarde nie, maar ruimtetuie met ultraviolet-sensitiewe instrumente kan dit waarneem.

Korona

Die korona kan met die blote oog tydens sonsverduisterings gesien word.  Dit strek vanaf die oorgangslaag tot miljoene kilometer in die ruimte in.  Die korona is die plek waar die sonwind en koronale plasmauitwerpings plaasvind.  Gewoonlik is die korona die grootste en aktiefste rondom die Son se ewenaar, maar tydens verhoogde sonvlekaktiwiteit kan die plasmauitwerpings in alle rigtings die ruimte inskiet.  Die warmste dele kan tot 20 miljoen grade Celcius wees, maar is gemiddeld rondom ‘n miljoen grade Celcius naaste aan die Son.

Heliosfeer

Die heliosfeer wat op die korona volg, is ‘n sonwindgevulde borrel wat miljarde kilometer in die ruimte instrek, tot verby die Kuipergordel waar dit met die interstellêre medium by die heliopouse (die buiteste grens van die heliosfeer) bots.  Dit het ‘n komeetvormige voorkoms met ‘n stert wat ver in die ruimte agter die Sonnestelsel aansleep soos wat die Sonnestelsel deur die ruimte rondom die middelpunt van die Melkweg roteer.

Die Son se magneetveld

Die kern van die Son roteer vinniger as die oppervlakte.  Die verskil in spoed veroorsaak ‘n magneetveld met pole, wat met die geografiese Noord- en Suidpool van die Son georiënteer is.  Die verskil in beweging van plasma tussen die stralingsone en die konveksiesone vorm ook ‘n sterk magnetiese veld in die spoedveranderingstreek.  Daarbenewens wek die konveksiestrome regoor die oppervlakte ‘n komplekse magneetveld wat konstant verander soos wat sonvlekaktiwiteit toe- en afneem en sonvlamme en plasmaboë vorm.  Die sonwind dra die Son se magneetveld in die ruimte in en vorm sodoende ‘n interplanetêre magneetveld waarlangs die plasmadeeltjies beweeg.

Sonvlekke

Sonvlekke het ‘n baie donker middelste deel wat die umbra (Latyn vir skaduwee – vandaar die woord “umbrella”) genoem word.  Die ligter (maar steeds donkerder as die omliggende fotosfeer) deel rondom die umbra word die penumbra genoem.  Mens kan streepagtige strukture, wat filamente genoem word, in die penumbra waarneem.  Hierdie filamente omring die umbra op dieselfde wyse as wat ystervysels rondom ‘n magneet aanpak.  Die rede hiervoor is dat ‘n sonvlek soos ‘n reuse magneet optree.

Sonvlekke kom dan ook dikwels in pare voor en elkeen het die teenoorgestelde polariteit van sy buurman.  Die bewegende elektrone in die konveksiesone veroorsaak massiewe kraglyne of kragbuise binne die konveksiesone wat magnetiese ladings dra.  Weens die Son se differensiële rotasie (dit beteken dat die plasma in die konveksiesone nie oral teen dieselfde spoed beweeg nie)

 rek die kraglyne al hoe meer op die ewenaar uit en wanneer die magneetveld ‘n sekere kritiese sterkte bereik bars die kragbuis deur die sonvlekke en vorm ‘n boog wat van die een sonvlek na die ander buig waarlangs plasma beweeg om ‘n plasmaboog of koronale lusse wat tot honderde duisende kilometers bo die fotosfeer in die korona kan opstyg.  Sulke plasmaboë kan vir ure tot dae bestaan voor dit verdwyn.  Die sterkte van die sonvlek se vertikale magneetveld is tussen 2000 en 4000 gauss, waarteenoor die Aarde se magneetveld by die ewenaar minder as ‘n halwe gauss is.  Die plasmaboë is net met behulp van X-straal en UV-sensitiewe instrumente sigbaar.

Mens kan prominensies tydens sonsverduistering op die rand van die maan se silhoeët in sigbare lig sien.  Prominensies begin as sonvlamme wat honderde duisende kilometer vanaf die fotosfeer in die korona inskiet en dan na die Son se oppervlakte toe terugval en ‘n boog materie vorm wat deur magnetiese velde ondersteun word.  So ‘n prominensie kan vir weke tot maande bestaan voordat dit verdwyn.  Sonvlamme het ‘n invloed op al die lae van die son se atmosfeer.  Sonvlamme bestaan uit verhitte plasma waarin elektrone, protone en ione tot bykans die spoed van lig versnel word.  Sonvlamme straal energie oor alle golflengtes van die elektromagnetiese spektrum vanaf radiogolwe, infrarooi, sigbare lig, UV tot X-strale en gammastrale uit.  Sonvlamme kom meestal in die aktiewe streke rondom sonvlekke voor waar sterk magnetiese velde die fotosfeer deurdring en die binnekant van die son met die korona koppel.  Uiters kragtige sonvlamme kan koronale plasma-uitwerpings veroorsaak wat materie en energie in die heliosfeer uitskiet.

Hoesê?

Woorde en Uitdrukkings

Absorpsielyne is die swart lyne wat in ‘n ligspektrum verskyn wat die teenwoordigheid van sekere elemente in die plasma van die son aantoon.

Akkresie is die samepakking van ruimtepuin wat uit gas, stof, rotse en ys bestaan deur gravitasieaantrekkingskrag.  Hierdie samepakking vorm al hoe groter hemelliggame soos dit al hoe groter en swaarder word vanaf asteroïede, tot mane, tot mikro-planete, tot planete, tot sterre.

Alfa Centauri (α Centauri), is die naaste ster aan die Son.  Eintlik is dit drie sterre wat baie naby aan mekaar is, maar wat soos ‘n enkele ster met die blote oog lyk.  Twee van die sterre is songrootte sterre en die derde is ‘n rooidwerg.  Hierdie sterre is ongeveer 4,37 ligjare van ons af.

‘n Asteroïed is ‘n voorwerp in die ruimte wat wissel tussen rotse van 1 m in deursneë tot die dwergplaneet Ceres wat 1000 m in deursneë is.  Asteroïede bestaan hoofsaaklik uit koolstof, silikate of metaal.  As dit op ‘n ander hemelliggaam soos ‘n planeet, maan of die Son val word dit as ‘n meteoriet beskou.  As dit hoofsaaklik uit ys bestaan en naby genoeg aan die Son kom om ‘n gas- en stofstert te ontwikkel word dit as ‘n komeet beskou.

Chromosfeer is die tweede laag van die vyf lae van die Son se atmosfeer.  Dit is deursigtig wat mens in staat stel om die fotosfeer daaronder te sien.   Die naam is afglei van die kleurflits wat mens rondom die maan waarneem aan die begin en einde van algehele sonsverduistering.  

Differensiële rotasie verwys na die verskil in rotasiespoed van die verskillende dele van ‘n hemelliggaam.  Dit is veral waarneembaar in die son en gasreuse soos Jupiter.

Dioptriese lig is ‘n lig wat deur breking (refraksie) in ‘n medium soos glas of water afgebuig en gefokus word. 

Dormansie (winterrus) in plante:  verwys na plante se metabolisme wat verlangsaam soos wat dit kouer word om energie en hulpbronne te bewaar.  

‘n Elektron is ‘n negatief gelaaide deeltjie wat in die buitenste lae van ‘n atoom voorkom.  Elektrone spin rondom die kern van die atoom teen amper die spoed van lig.

Elektromagnetiese spektrum is die volledige reeks elektromagnetiese straling, georganiseer volgens frekwensie of golflengte, en dit strek van die langste radiogolwe tot die kortste gammastrale. Dit sluit alle vorme van elektromagnetiese golwe in nl., radiogolwe, mikrogolwe, infrarooi, sigbare lig, ultraviolet, X-strale en gammastrale.

‘n Element is ‘n suiwer stof wat uit slegs een soort atoom bestaan, gekenmerk deur ‘n unieke aantal protone in sy kern (die atoomgetal). Elemente vorm die basiese boustene van materie en word in die periodieke tabel gerangskik volgens hul atoomgetalle en chemiese eienskappe. Elemente kan nie in eenvoudiger stowwe opgebreek word deur gewone chemiese prosesse nie.

Energie is die vermoë om werk te verrig of verandering teweeg te bring. In die natuurwetenskappe is dit ‘n fundamentele grootheid wat nie geskep of vernietig kan word nie, maar slegs van een vorm na ‘n ander omgeskakel word.  Energie kan onder andere as meganiese, termiese, chemiese, elektriese en kernenergie voorkom.

Ewenaar is ‘n denkbeeldige groot sirkel op die oppervlak van ‘n roterende bolvormige liggaam, wat loodreg op die rotasie-as lê en die liggaam in twee gelyke halfronde verdeel.  Die geografiese konvensie is dat dit op die 0° breedtelyn lê.

Fotosfeer van die Son is die sigbare oppervlalk van die ster, maar dit is eintlik die onderste laag van die atmosfeer van die son – ‘n dun laag plasma van sowat 100-500 km dik – waaruit die meeste van die Son se lig ontsnap en die Aarde bereik.  Dit is nie ‘n vaste oppervlakte nie, maar ‘n streek waar die plasma ondeursigtig genoeg raak dat fotone kan ontsnap en as sonlig waargeneem word.  Die sonvlekke en sonkorrels kom hier voor.

Foton is ‘n kwantum van elektromagnetiese straling — die kleinste ondeelbare “pakket” ligenergie.  Dit is gewigloos en beweeg teen die spoed van lig.

Gammastrale is hoë-energie fotone wat ontstaan wanneer atoomkerne verander (radioaktiewe verval, kernreaksies) of in uiterse astrofisiese prosesse soos supernovas.

Gauss is die eenheid waarmee magnetiese vloeddigtheid of magnetiese induksie in die CGS-stelsel (centimeter–gram–sekonde) gemeet word. Dit beskryf hoe sterk ‘n magnetiese veld is.

Golflengte is die afstand tussen twee opeenvolgende punte in ‘n golf wat in fase is — tipies gemeet van kruin tot kruin of trog tot trog. Dit is ‘n fundamentele eienskap van alle golwe, insluitend golwe van die elektromagnetiese spektrum, klank en watergolwe.

Gravitasie-aantrekking is die krag tussen twee massas bestaan wat hulle na mekaar toe trek.

Hemelliggaam is ‘n natuurlike voorwerp soos ‘n ster (insluitende die Son), planete, mane, asteroïede, komete en mikro-planete wat in die ruimte is.

Heliopouse is die buitenste grens van die heliosfeer waar dit aan die interstellêre medium raak.

Die heliosfeer is ‘n borrel van plasma en magnetiese veld wat deur die Son se sonwind geskep word en die hele sonnestelsel omhul.  Dit is die streek van ruimte waar die invloed van die Son se magnetiese veld en gelaaide deeltjies dominant is, miljarde kilometer verder in die ruimte instrek, totdat dit by die heliopouse met die interstellêre medium kontak maak.

Helium (He) is ‘n chemiese element met die simbool He en atoomgetal 2.  Dit bevat twee protone in die atoomkern en is die ligste element naas waterstof wat een proton bevat.  Dit is ‘n kleurlose, reuklose, smaaklose, nie-giftige en inert gas wat tot die edelgasse behoort.

Infrarooi is ‘n vorm van elektromagnetiese straling met golflengtes (700 nanometer tot 1 millimeter) wat langer is as dié van sigbare lig, maar korter as mikrogolwe is. Dit lê dus net “onder” rooi lig in die spektrum — daarom die naam infra-rooi.

Interplanetêre magneetveld is die uitbreiding van die Son se magnetiese veld wat saam met die sonwind deur die hele sonnestelsel vloei. Dit vorm ‘n dinamiese, spiraalvormige struktuur wat die planete en ander liggame beïnvloed.

Interstellêre medium is die gas (hoofsaaklik waterstof en helium), stof en plasma wat tussen die sterre in ‘n sterrestelsel voorkom.  Dit vul die ruimte tussen sterre en dien as die grondstof waaruit nuwe sterre en planete gevorm kan word.

‘n Ioon is ‘n atoom of molekule wat ‘n netto elektriese lading dra omdat dit elektrone verloor (positiewe lading) of verkry (negatiewe lading) het.

Kasterolie: die olie wat uit die uiters giftige sade van die kasterolieplant Ricinus communis gepers word. Die olie irriteer die dermkanaal wat tot maagwerkings lei. In die verlede het mense geglo dat dit ‘n verskeidenheid van kwale kan genees.

Kelvin (absolute zero, die laagste temperatuur moontlik in die heelal, is 0 Kelvin of te wel  -273.15°C of -459.67°F.  Die afkorting vir Kelvin is K.

Kernfusie is die proses waardeur ligte atoomkerne saamgevoeg word om ‘n swaarder kern te vorm, en in die proses enorme hoeveelhede energie vrystel.  Dit is die fundamentele energiebron van sterre, insluitend die Son.

Kinetiese energie is die energie wat ‘n voorwerp besit as gevolg van sy beweging.  Hoe vinniger en hoe swaarder ‘n voorwerp is, hoe meer kinetiese energie het dit.

Komeet is ‘n klein hemelliggaam wat hoofsaaklik uit ys en stof bestaan en ‘n eksentrieke wentelbaan om die Son het.  Wanneer ‘n komeet naby die Son verbybeweeg, sublimeer die ys van die komeetkern en begin dan gas afgee.  Die gas vorm ‘n sigbare atmosfeer of koma en soms ook ‘n stert of sterte wanneer die sonwind die gas van die komeet af wegwaai.  Die komeetstert wys dus altyd weg van die Son af en dui nie die rigting van beweging van die komeet aan nie.  ‘n Komeetkern kan van honderde meter tot tientalle kilometer in deursnee wissel terwyl ‘n koma tussen duisende tot miljoene kilometer breed kan wees, terwyl die stert of sterte tot 150 miljoen km (een astronomiese eenheid) lank kan wees.

Konveksiesone: buitenste deel van die Son wat tussen die stralingsone en die atmosfeer geleë is.  Die sigbare lig van die Son word deur hierdie laag uitgestraal.  Die konveksiestrome in die konveksiesone vorm reuse kolomme of selle met warm plasma wat die oppervlakte ‘n korrelrige voorkoms gee.  Sonvlekke kom ook in hierdie laag voor.

Korona is die uiterse, baie warm atmosfeerlaag wat die Son omring en wat miljoene kilometers ver die ruimte instrek.  Dit is slegs sigbaar tydens ‘n totale sonsverduistering of met spesiale instrumente, omdat dit baie swakker lig uitstraal as die fotosfeer.

Koronale plasma-uitwerpings is massiewe uitbarstings van plasma en magnetiese velde wat uit die Son se korona die ruimte ingeslinger word.  Die plasma bevat elektrone, protone en soms swaarder ione wat teen snelhede van honderde tot duisende kilometers per sekonde beweeg.  Koronale plasmauitwerpings is van die kragtigste verskynsels in die Son se atmosfeer en speel ‘n groot rol in ruimteweer.

Kraglyne, kragbuise of magnetiese vloedbuise is kanaalagtige strukture van plasma wat deur die Son se magnetiese veld gevorm word.  Gelaaide deeltjies (plasma) word hierin vasgevang en word gelei deur die magnetiese veldlyne. Wanneer die kraglyne deur die sonvlekke bars, lyk dit soos boë of lusse wat uit die fotosfeer en chromosfeer tot in die korona instrek.  Kraglyne veroorsaak sonvlekke, prominensies en koronale lusse.

Kuiper-gordel is ‘n uitgestrekte ring van ysige liggame en klein planeetagtige voorwerpe wat buite die wentelbaan van Neptunus lê. Dit is ‘n deel van die sonnestelsel wat as ‘n “kosmiese stoorkamer” van komete en ruimtepuin dien.

Magneet is ‘n voorwerp wat ‘n permanente of tydelike magnetiese veld het wat ‘n magnetiese veld skep en ander materiale aantrek of afstoot wat magnetiese eienskappe het, soos yster, nikkel en kobalt.  Elke magneet het ‘n noord- en suidpool.  Gelyke pole stoot mekaar af, teenoorgestelde pole trek mekaar aan.

Magneetveld is die onsigbare kragveld wat deur ‘n magneet of ‘n bewegende elektriese lading geskep word, en wat ander gelaaide deeltjies of magnetiese materiale beïnvloed.

Mane is natuurlike satelliete wat rondom planete wentel.   Natuurlike satelliete het nie ‘n spesifieke grootte voordat dit as mane beskou word nie.  Sekere mane – soos ons eie Maan is inderdaad selfs groter as sekere mikro-planete soos Pluto.   Ander mane in ons Sonnestelsel soos Ganymede, Callisto en Titan is groter as Mercurius – wat ‘n planeet is!  Die twee mane wat rondom Mars op wisselvallige wentelbane tuimel – Phobos en Deimos – is niks anders as twee asteroïede wat in Mars se gravitasieveld op so ‘n hoek ingeval het dat hulle nie as meteoriete neergestort het nie.  Daar is waarskynlik miljoene asteroïede van dieselfde grootte as Phobos en Deimos in Saturnus se ring wat nie as mane beskou word nie.  

Massa-energie-omskakeling is wanneer materie in energie omgeskakel word soos wat met ‘n atoombomontploffing of kernreaktor gebeur.  Dit is wat Einstein se formule: E=mc2 voor staan.

Materie is die fisisie boustof van die heelal.  Daar word onderskeid tussen materie en energie getref, maar soos ons kan sien, kan materie in energie omskep word en andersom.  Atome is die basiese boublokke van materie.

Melkweg is die plaaslike sterrestelsel.  Ons Sonnestelsel kom in die Melkweg voor.  Wanneer mens na die band van helder sterre kyk wat oor die hemelruim span sien mens eintlik die digte deel van die Melkweg van die kant af.

Meteoriet is ‘n soliede stuk ruimtepuin soos ‘n komeet of asteroïed wat op ‘n groter hemelliggaam soos ‘n ster, planeet, maan of mikro-komeet neerstort.  ‘n Stuk ruimtepuin wat uit ys, yster of klip of mengsels daarvan bestaan, word deur die groter hemelliggaam se gravitasieveld aangetrek.  Wanneer dit die oppervlakte tref word dit ‘n meteoriet genoem.

Meteorietstorm is ‘n verskynsel waar baie meteoriete in ‘n kort tydperk ‘n hemelliggaam tref, gewoonlik as gevolg van ‘n groot meteorietinslag wat fragmente versprei, of wanneer ‘n groep kleiner meteoriete saam die hemelliggaam tref.

Mikroplaneet is ‘n klein hemelliggaam (gewoonlik ‘n paar kilometer tot honderde kilometer in deursneë) in die sonnestelsel wat groot genoeg is om ‘n vaste vorm te hê, maar te klein om as ‘n volwaardige planeet geklassifiseer te word.  Mikroplanete kom voor in streke soos die asteroïdegordel tussen Mars en Jupiter, en die Kuiper‑gordel buite Neptunus se wentelbaan.

Optiese spektrum  is die deel van die elektromagnetiese spektrum (ongeveer 400 nanometer (pers) tot 700 nanometer (rooi)) wat vir die menslike oog sigbaar is. Dit strek van violet tot rooi lig en sluit al die kleure van die reënboog in.

Penumbra van ‘n sonvlek is die halfdonker ring of streek wat ‘n sonvlek omring, waar die lig van die fotosfeer gedeeltelik geblokkeer word deur sterk magnetiese velde.  Die penumbra bestaan uit filamente van plasma wat radiaal uit die donkerder kern (umbra) van die sonvlek strek.

Periodieke Tabel is ‘n rangskikking van al die bekende elemente, georganiseer volgens hul atoomgetalle (getal protone), elektronkonfigurasies en herhalende chemiese eienskappe.  

Planeet is ‘n hemelliggaam, groter as 1000 km in deursneë, wat om die Son wentel.

Planetêre of ekliptiese vlak is die denkbeeldige plat vlak waarin die meeste planete van ‘n sterstelsel om ‘n sentrale ster wentel.  In ons sonnestelsel word dit dikwels die ekliptiese vlak genoem, omdat die Aarde se baan die verwysingsvlak vorm. 

Plasma is die vierde toestand van materie (die ander drie is: gas, vloeistof en vaste stof), bestaande uit ‘n warm, geïoniseerde gas van gelaaide deeltjies (ione en elektrone) wat saam ‘n dinamiese en geleidende medium vorm.  Die gas het soveel energie dat die elektrone van die atome loskom om ‘n mengsel van positiewe ione en vrye elektrone te skep.  Plasma kan elektrisiteit gelei, reageer sterk op magnetiese en elektriese velde en kan lig uitstraal.  

Plasmaboog of koronale lus is ‘n reuse‑boog van warm plasma wat vasgevang word langs die Son se magnetiese veldlyne in die korona.  Hierdie strukture is ‘n direkte gevolg van die Son se dinamiese magnetiese veld en die interaksie van gelaaide deeltjies met daardie veldlyne.

Plasma-uitwerping of koronale massa‑uitwerping is ‘n reuse‑ontploffing van plasma (geïoniseerde gas wat elektrone, protone en soms swaarder ione bevat) en magnetiese veldlyne uit die Son se korona wat in die ruimte uitgeslinger word.

Polariteit is die eienskap van ‘n magneet of magnetiese veld om twee teenoorgestelde pole te hê — ‘n noordpool en ‘n suidpool — wat verskillende rigtings van magnetiese krag aandui.  Dieselfe pole stoot mekaar af, terwyl die teenoorgestelde pole mekaar aantrek.

Prominensies is ‘n groot, helder boog van koeler en digter plasma wat vanaf die Son se oppervlak uitstrek en deur die Son se magnetiese veldlyne in die korona vasgehou word. Dit kan vir dae tot maande aanhou en word dikwels as rooiagtige filamente of boë gesien tydens ‘n sonsverduistering of deur spesiale teleskope.

Protone is ‘n subatomiese deeltjie wat in die kern van ‘n atoom, saam met neutrone voorkom en ‘n positiewe elektriese lading dra.  Die getal protone in die kern, bepaal die atoomgetal van die element.

Puinskyf is die ys, stof, gas en rotse wat rondom die protoson wentel.  Die puinskyf is afgeplat weens die sentrifugale krag wat deur die rotasie van die puinskyf vorm.  Die puinskyf is die voorloper van die planete en mane wat deur akkresie van die puin sal vorm.

Rabbedoe is volgens die WAT gewoonlik ‘n dogter of jongmeisie met ‘n traak-my-nie-agtige, onverskillige of sorgelose gedragspatroon, wat gewoonlik as seunsagtig of onvroulik beskou word.  Dit kan egter ook verwys na ‘n woelige kind of onverskillige, luidrugtige en dikwels aggressiewe persoon, wat gewoonlik weinig omgee vir die openbare mening.

Radiogolwe is ‘n vorm van elektromagnetiese straling met baie lang golflengtes (1 mm tot meer as 100 kilometer) en lae frekwensies. Hulle beweeg teen die snelheid van lig en kan groot afstande oorbrug, wat dit ideaal maak vir kommunikasie.

Rotasie is die spin van ‘n maan, planeet of ‘n ster soos die Son om sy eie as.

Rotasieperiode is die tydperk wat dit neem vir ‘n hemelliggaam om 360° om sy eie as te draai.

Ruimtepuin is die gas, stof, ys en rotse wat in die ruimte dryf.  Dit kan ontstaan wanneer twee hemelligame in mekaar bots of wanneer die puin van planete, mane, asteroïede en ‘n ster in die ruimte ingeslinger word na ‘n ster ontplof.

Sentrifugale krag is die verskynsel wat in ‘n roterende stelsel geskep word.  Dit wys altyd weg van die middelpunt van die draai wat ‘n voorwerp na buite “druk” en word veroorsaak deur die traagheid van ‘n voorwerp om te versnel en nie deur ‘n krag nie.

Son is ons plaaslike ster, die middelpunt van die Sonnestelsel.

Sonatmosfeer, wat die Son bedek, bestaan uit vyf lae, van binne na buite: die fotosfeer, chromosfeer, oorgangstreek, korona en heliosfeer.

Sonfilamente word in die penumbra van sonvlekke gesien as draadvormige strukture wat vanaf die umbra na buite toe uitstraal.  Dit word gevorm deur plasma wat langs skuins magnetiese veldlyne gerig word.

Sonkern is die binneste deel van die Son wat soos ‘n reuse kernreaktor werk waar waterstof deur kernfusie helium vorm en 4,26 miljard kilogram materie per sekonde in energie omskep.

Sonkorrels of granulasies is die miljoene korrelagtige patrone (ongeveer 1000 km in deursneë) wat op die fotosfeer (die sigbare oppervlak van die Son) gesien kan word.  Hulle ontstaan deur konveksie van warm plasma in konveksieselle wat uit die konveksiesone van die Son opstyg en vir ‘n paar minute in die fotosfeer gesien kan word voor dit weer afsak.

Die Sonnestelsel is die Son en die hemelligame, soos die planete en hul natuurlike satelliete, die mane, en kleiner hemelliggame soos mikroplanete, asteroïede en komete.

Sonsverduistering vind plaas wanneer die Maan tussen die Son en die Aarde inbeweeg.  ‘n Sonsverduistering kan tussen ‘n paar sekondes tot ‘n paar minute duur.

‘n Sonvlam is ‘n skielike, intense uitbarsting van energie en straling oor die hele elektromagnetiese spektrum (van radiogolwe tot X-strale en gammastrale) vanaf die Son se oppervlak, wat veroorsaak word deur die skielike verandering of herkonneksie van die Son se magnetiese veldlyne.  Dit ontstaan in aktiewe streke rondom sonvlekke waar magnetiese veldlyne kompleks en gespanne is en bestaan vir minute tot ure.  

‘n Sonvlek is ‘n donker, koel gebied op die Son se fotosfeer wat ontstaan waar die Son se magnetiese veldlyne baie sterk en gekonsentreerd is.  Dit kan vir ure tot weke bestaan en beweeg saam met die Son se rotasie.  Sonvlekke is ‘n aanduiding van die Son se magnetiese aktiwiteit en speel ‘n rol in sonvlamme en prominensies.

Sonwind is ‘n deurlopende stroom van gelaaide deeltjies (plasma) – hoofsaaklik elektrone en protone en soms swaarder ione – wat vanaf die Son se buitenste atmosfeer (korona) die ruimte  teen honderde tot duisende kilometer per sekonde inskiet en die hele Sonnestelsel vul.

Spoed van lig is die maksimum snelheid waarteen energie en inligting deur die heelal kan beweeg. In ‘n vakuum is dit ‘n konstante waarde van ongeveer: 299 792 458 meter per sekonde.

Sterrekundiges of astronome is wetenskaplikes wat die ruimte, sterre, planete en ander hemelligame en die prosesse wat daarbinne plaasvind, bestudeer.

Stralingsone: binneste deel van die Son wat tussen die kern en die buitenste konveksiesone voorkom.  Hitte word van die kern na die konveksiesone d.m.v. die stralingsone gedra.

Supernova is ‘n uiters kragtige ontploffing van ‘n ster wat aan die einde van sy lewensiklus plaasvind. Dit is een van die mees energieke verskynsels in die heelal en kan vir ‘n kort tydperk ‘n hele sterrestelsel se helderheid oortref.  

Vernalisasie: Sommige plante benodig ‘n koue periode van ‘n sekere hoeveelheid dae of weke om blomvorming tydens lente te aktiveer.  

Waterstof (H) is die ligste en eenvoudigste element in die periodieke tabel.  Elke waterstofatoom bestaan uit een proton en een elektron, en het geen neutrone in sy mees algemene vorm nie.  Dit is die volopste element (75%) in die sigbare heelal.

Wentelbaan is die baan waarlangs ‘n planeet rondom die Son, of ‘n maan rondom ‘n planeet beweeg.  ‘n Wentelbaan kan rond, maar meestal ellipsvormig wees.

Ultraviolet-strale is ‘n vorm van elektromagnetiese straling met ‘n golflengte korter as sigbare lig, maar langer as X‑strale (10–400 nanometer).  Ultraviolet-strale het dus hoër in energie as sigbare lig en kan biologiese en chemiese prosesse beïnvloed.

Umbra is die donker kern van die sonvlek waar die Son se oppervlak die koelste is en die magnetiese veldlyne die sterkste en mees vertikaal gerig is.

X-strale is ‘n vorm van hoë‑energie elektromagnetiese straling met ‘n golflengte korter as ultraviolet lig, maar langer as gammastrale (0.01 – 10 nanometer). X-strale het genoeg energie om atome te ioniseer en molekulêre strukture te verander.

Die Knoffels

Vervolgverhaal: SIAS EN MIAS 

deur Mikro
(oorvertel deur François Durand)

Hoofstuk 7: Mias en Sias se siekte

“Waarom is jy so opgetakel?” vra sy.

“Verkoue, Ma,” skree hy met ‘n vreemde stem wat sy nie herken nie.

Mias gee die geld en vat die goed by ou Wolheim. Toe pluk hy die mus letterlik oor sy oë en stap mank na die deur. Koos kyk hom verbaas aan, vat sy arm en vra: “Wat makeer?”

Mias ruk sy arm verwoed los en hardloop. Ons maat is darem slim genoeg om nie na die pastorie te hardloop nie maar eers ‘n wye draai in die dorp te gooi.

Koos Geyer kon hierdie vreemde gedrag van een van die tweeling nie verstaan nie, maar na hy met die vreemdeling gesels het, het daar lig vir hom opgegaan. Dis Krisjan en die tweeling wat daar in die berg was.

Uitasem kom Mias by die pastorie aan en glip by die kamer in. Toe bewe hy so dat hy nie kan praat nie.

“Wat is dit?” vra Sias.

Mias maak sy mond oop, maar daar kom geen geluid uit nie. Dan wys hy maar met sy vinger na ou Wolheim se winkel.

“Suikerwater,” sê Sias en vat die kleingeld en die goed by Mias.

Nadat hy die seep en die gare en die kleingeld vir sy ma gegee het, gaan Sias na die kombuis en maak suikerwater aan. Dis al raad waaraan hy nou kan dink.

Mias het eintlik koue koors. Sy tande klap teen die glas, maar onse maat drink die suikerwater. Dit help na ‘n rukkie, maar hy lê nog spierwit op die bed.

“Die moordenaar het my gesien…in die winkel…by Koos. Die kat het sommer so geblaas…Hy is ‘n moordenaar,” vertel Mias.

“Watter een?”

“Die een met die baie merke aan sy gesig,” antwoord Mias en sluk.

Sias kyk na die venster. Mias ook. Vannag sal hulle met ‘n toe venster moet slaap. Dis ál genade.

Daar is nie eens ‘n gedagte by hulle om hulle pa te vertel nie. Koos Geyer kan dan in die moeilkheid kom. Dis nou net iets wat hulle in hul hart sal moet bewaar. As die skelms nie van Koos gepraat het nie, dan was dit ‘n ander saak. Die skelm het na Koos gegaan, en vir Koos wil hulle nie in die moeilikheid bring nie.

“Het jy gesien waarheen hy gaan?” vra Sias.

Mias skud net sy kop.

“Ons sal nie weer uit die huis gaan nie,” sê Sias soos een wat ‘n gewigtige besluit geneem het.

Dis al wat hulle kan doen. Hulle kan met niemand gesels nie en hier sal hulle in die huis moet bly.

“Ek is siek,” sê Sias skielik en begin hom uittrek.

Mias en Sias doen altyd dieselfde ding.

“Ek is ook siek,” sê Mias en volg sy broertjie se voorbeeld.

“Dit sal kasterolie vir ons wees,” meen Sias.

“Ek geen nie om nie,” antwoord Mias.

“Ek ook nie,” sê Sias.

Daardie aand sê Lenie vir haar man: “Die kinders moet regtig baie siek wees. Hulle het die kasterolie stroopsoet gedrink,”

“Dis seker die Oosterse griep. Ek hoor dis hier in die dorp,” antwoord Dominee Viljoen.

“’n Mens is ook nooit sonder bekommernisse nie,” meen Lenie. “As hulle gesond is, kwel ek my oor wat kan gebeur, want hulle is so wild. Is hulle siek, bekommer ek my weer oor die siekte. Sal ek hulle ooit grootmaak, Jan?”

Jan Viljoen lag.

“Ons het al baie klein hondjies grootgemaak, nie waar nie? Daar is seker maar engele wat hulle bewaar. Ek dink Sias en Mias het ‘n paar meer as ander kinders.”

“Hulle het darem nie juis koors nie,” sê Lenie soos een wat die saak nie heeltemal begryp nie.

“Miskien hegin die siekte maar so. Hulle sal darem nie gaan lê as hulle nie siek is nie,” antwoord Dominee Viljoen.

Anna praat nie. Sy wonder net. Sias en Mias moet baie siek wees as hulle in die bed kruip. Dis nie siek mense wat daar lê nie. Dis bang mense, dink sy.

“Ek gaan hulle afspons,” sê hul ma toe die huismense klaar geëet het.

‘n Rukkie later is daar ‘n hele gedoente in die slaapkamer. Sias weier om afgespons te word.

“Maar waarom nie, Sias?” vra Lenie.

”Ek is ‘n seun, Ma, en ‘n seun spons homself af, Ma.”

“Ek het so iets nog nooit gehoor nie. Laat staan jou nonsens. Ek gaan jou nou afspons,” sê Lenie en druk hom vas.

“Ma kan my bolyf en my bene afspons maar verder spons ek self,” sê Sias beslis.

Lenie Viljoen is ‘n mens wat ook maar baie eiewys kan wees en daarom druk sy Sias net op die bed vas en doen die nodige. En toe begryp sy. Albei het vanaand ‘n geboortevlek op die magie. Nou wie is dan Sias en wie is Mias?

Toe weet sy asof iemand dit vir haar gesê het. Die mannetjie wat so luid geprotesteer het, is die een sonder ‘n geboortevlek en hy is Sias. Sy val haar nou baie ander dinge by. Daardie inkkol in die badkamer wat sy nou nog nie kan uitkry nie! Daardie dag het Sias die kol met Indiese ink op sy maag gemaak. Dis Jan se skuld. Jan het mos die gewoonte om die magie kaal te maak.

Lenie het lus om te lag, maar om die kinders nie in hul onhebbelikheid te sterk nie, doen sy dit darem nie. Nee, sy het kwansuis niks opgemerk nie.

Sias sug diep en verlig. Sy ma het niks opgemerk nie. Dankie tog, dink hy. Dit kon hom ‘n pak slae gekos het. Toe die lig later in die kamer afgeskakel is, word die twee weer baie bang. Die geritsel van die wind deur die blare is vir hulle sommer yslike geluide. As die takke op die dak skuur, luister hulle bang daarna.

Mias wip later uit sy bed en kom by Sias inkruip. Kort-kort wil die een van hulle weet of die maat al slaap. Uiteindelik kom die slaap. Nou ken hulle geen vrees nie en is hulle net twee uitgeputte kinders wat slaap en slaap.

Hul ma het na die studeerkamer gestap en so gelag dat sy amper nie kan praat nie. Die storie word vir Jan Viljoen vertel.

“Ek weet presies wanneer hy die geboortemerk gemaak het, Jan. Dit is volmaak soos Mias s’n. Nou dink ek mos hoe lekker hy jou gekul het, Jan. Jy het mos die manier om te kyk of daar ‘n vlek is of nie.”

Jan Viljoen sit sy pen op die lessenaar neer en lag heerlik.

“Lenie, ‘n mens kan jou nie vir die kinders vererg nie. Onhebbelik en stout, maar ons wil nie sonder hulle wees nie. Sal jy hulle ooit verruil, Lenie?” wil hy weet.

“Vir niks ter wêreld nie, Jan. Ek wonder darem nog wat vandag gebeur het. En die twee is nie so danig siek nie.”

“Hulle was weer stout en het gedink ons sal daarvan te hore kom, toe kruip hulle in die bed. Dis al,” antwoord haar man.

“Jan, ons het vroeër oor die saak gesels en ek gaan dit nou die allerlaaste keer aanroer. Is Bitterwater die beste plek vir ons om ons kinders op te voed? Jy het al ‘n kans gehad om Sendingsekretaris te word en dit toe bedank. Was dit verstandig van jou? As die kinders elders kan grootword…” en Lenie maak net ‘n gebaar met haar hand.

Jan antwoord nie dadelik nie. Hy ken en respekteer Lenie se wens. Dis waar; die kinders het nie hier al die geleenthede wat hy hulle graag wil gee nie. Miskien is hy selfsugtig. Hy is darem heilig oortuig dat Bitterwater vir eers sy werkkring is.

“Lenie, ek is bly dat jy dit noem. Ek dink dikwels aan my gesin. Maar iemand moet die werk doen en ek is tog nie beter as ander mense nie. Ek voel my geroepe om hier te werk. Kan jy dit nog uithou?”

“Dis nie ‘n saak van uithou nie, Jan, ek dink aan die kinders. Mias het sonder enige twyfel ‘n aanleg vir musiek. Jy moet tog hoor hoe oulik hy van gehoor af speel. Die kind moet ‘n kans gegun word. Hy is ons dromertjie. Sias is ‘n rabbedoe, maar Mias verraai nooit sy gevoelens nie. Ek voel hy moet ‘n kans gegun word om ook te ontplooi. Sias sal dit in enige gemeenskap kan doen. Oor hom is ek nie bekommerd nie. Dan is Anna ook daar. Anna moet in ‘n groter klas kom. Hier in Meneer Meerhuis se skool is hulle net drie in die klas. Dis alles dinge wat ek aan dink,” sluit sy af.

“Ek sal jou sê wat ons doen, Lenie. Ons wag nog ‘n tydjie. Intussen maak ons ‘n plan. Ek sal more vir Bettie Kantroos gaan sien en hoor of sy Mias sal neem. Bettie het goeie kwalifikasies en is die regte een om Mias touwys te maak. Maar wat van Sias? Jy weet tog hy is net so vernuftig soos Mias?”

“Sias sal nie belangstel nie want hy is te veel van ‘n rabbedoe. Ons moet Mias die kans gee sodat hy ‘n bietjie meer selfvertroue kan kry. Sias oorheers hom heeltemal. Dis my enigste rede,” sê Lenie. 

Bettie Kantroos is ‘n onderwyseres op Blitterwater, en onder andere kan sy klavier speel.

Lenie sug. Jan het ook vir alles ‘n plan. Jan is reg ook. As hy voel dis sy roeping om hier op Bitterwater te bly, sal sy niks in die weg lê nie. Jan is gelukkig hier en sy ook. Mikien bekommer sy haar te veel oor die kinders. Anna vorder tog baie fluks en Meneer Meerhuis is die regte mens om met Sias en Mias te werk. Intussen moet Bettie dan maar die note vir Mias leer. Later kan hulle ‘n ander plan maak.

Lenie gaan na die tweeling se kamer om te kyk of hulle al slaap en nie miskien ooplê nie. Toe gaan sy weer terug na die studeerkamer en roep Jan.

“Kom kyk hier in die kinders se kamer, Jan,” sê sy vol lag.

“Wat is dit, Lenie?” wil hy weet.

“Nee, kom kyk self,” sê sy net.

Jan sit sy arm om Lenie se lyf en stap na die slaapkamer. Daar lê die twee in een bed rustig en slaap. Die een het sy arm styf om die ander se lyf. Die bed is klein, maar daar op die kussing het hulle nog plek vir die kombuisbyl gekry.

Toe is daar trane in Lenie se oë.

“Slaap maar, ou aspatatte,” sê sy, “slaap maar rustig. As die sorge van die lewe eers kom, sal julle weer wakker lê.” 

Sy trek die komberse oor hul skouers en toe stap die twee saggies uit die slaapkamer.

“Wie is Sias en wie is Mias?” vra Jan ondeund.

“Ek weet nie, maar dit maak nie saak nie. Ek het altwee ewe lief,” antwoord sy.

BAK EN BROU

Melktert

Bestandele: 

105 ml meelblom

105 ml suiker

Knippie sout

500 ml melk

2 eiers

5 ml (1 teelepel) botter

1 stuk pypkaneel

Gemaalde kaneel

Skilfertertdeeg

Metode:

• Meng die meelblom, suiker, sout en genoeg koue melk by om dit aan te maak, in ‘n bak.

• Verhit die res van die melk met die pypkaneel daarin in ‘n kastrol, tot dit kook en voeg dit al kokende by die meelmengsel terwyl jy dit roer.  Gooi die mengsel dan weer terug in die kastrol en roer dit terwyl jy dit op ‘n lae hitte verhit.

• Kook die mengsel vir 5 minute lank en roer die eiers dan een vir een by.  Skakel plaat af.  

• Voeg die botter by die mengsel tot die botter heeltemal gesmelt en ingeroer is.

• Bedek die bodem van ‘n gesmeerde tertbord of -pan met ‘n laag skilferdeeg (natuurlik sou ouma haar eie deeg gemaak het, maar niemand gaan kla as jy klaargegmaakte skilferdeeg van die winkel gebruik nie).  

• Giet die vulsel nou in die tertbord of – pan, bo-op die skilferdeeg.

• Sit die melktert nou in die oond en bak dit vir 25 minute lank teen 200°C, maar verminder die hitte na die eerste 10 minute.

• Haal die tert uit die oond en strooi kaneel daaroor nadat die tert effens afgekoel het.

• Nooi jou familie uit vir koffie en melktert (afhangende van die grootte van jou familie en hoe honger hulle is, moet jy dalk dit oorweeg om meer as een melktert te bak!  Vir 6 melkterte gebruik 625 ml meelblom, 625 ml suiker, 2,5 ml sout, 6 liter melk,  10 eiers, 37,5 ml botter, 3 stukke pypkaneel, en natuurlik die gemaalde kaneel en sorg vir genoeg skilferkors ook).

WAT MAAK JY DAAR?

‘n Sonoond

Ek het hierdie sonoond uit 18mm dik gelamineerde hout gemaak. Mens kan eintlik enige tipe hout, planke, bord en selfs kartondose gebruik om ‘n sonoond te maak. Die geheim van die sonoond is die skuins weerkaatsende panele aan die binnekant wat teen sulke hoeke opgestel moet word dat die son vanaf verskeie vlakke na die pot in die middel weerkaats.

Jy kan gerus nog verbeterings aanbring soos om insulasie soos ou komberse, katoen of lappe in die ruimtes tussen die weerkaatsende panele en die kas in te druk. Insulasie sal die hitte beter binnehou en die pot vinniger verhit en vir langer warm hou.

‘n Swart plaat op plat pan onder die pot sal ook help om hitte na die pot oor te dra.

Dit is belangrik om ‘n swart pot in ‘n sonoond te gebruik.  Swart oppervlaktes absorbeer die meeste sonhitte en word warm genoeg om mee te kook.   Jy kan gietysterpotte gebruik maar dit neem langer om op te warm as ‘n emaljepot.  Dit is net moeilik, maar nie onmoontlik om swart emaljepotte op te spoor nie.  Die dunwandige swart emaljepot gelei die hitte vinniger na binne om die inhoud in die pot te verhit.  Anders as met ‘n pot op ‘n plaat van ‘n gewone stoof word die deksel van die pot wat jy in die sonoond gebruik, warmer as die boom van die pot.

Weens die laer temperatuur in die sonoond as in ‘n gewone oond, is die kooktyd vir ‘n pot kerrie of ‘n potjie 3-4 ure.  Jy moet dus jou kos in die oond teen 10:00 te hê as jy 13:00-14:00 wil eet.

TOEKA SE TYD

Vuurtorings van Suid-Afrika

Die seebodem by die suidelike punt van Afrika, waar die Indiese en Atlantiese Oseane bymekaarkom, is besaai met skeepswrakke.  Tusssen Kaap Aghulas tot by Kaappunt lê meer as 140 skeepswrakke, wat die naam Kaap van Storms vir hierdie deel van die kusgebied, gestand doen.  Die grootste persentasie van hierdie skeepswrakke dateer uit die 17de en 18de eeu toe die Portugese en Hollanders die Speseryroete beheer het.  Later het die Britte die handel na die Verre Ooste oorgeneem en koffie, tee, speserye en katoen rondom die Kaap verskeep.  Nadat die Britte ‘n paar skepe by die Kaap van Storms verloor het, het hulle vanaf die 19de eeu begin om vuurtorings langs die kus te bou.  Die eerstes was by Groenpunt (1824), Kaappunt (1849), Kaap Aghulas (1849) en Kaap St. Blaize in Mosselbaai  (1864) opgerig.  Die getal skeepswrakke het algaande afgeneem soos wat die vuurtorings al langs die kus van Suid-Afrika opgerig is.

Hier is Suid-Afrika se vuurtorings van die heel noordelike een, Port Nolloth, in die Noord Kaap, al met die kus langs deur die Wes Kaap, Oos Kaap en tot by die heel noordelike een, naamlik Jesser Pointvuurtoring by Sodwanabaai, in KwaZulu-Natal.

Daar is talle kleiner ligbakens en vuurtorings – veral die breekwatervuurtorings wat op die punt van ‘n kaai voorkom – wat nie hier gelys is nie, want daar is net te veel van hulle en daar is nie plek op die kaart om almal aan te toon nie.  Al die groot vuurtorings wat nog in werking is word hier gelys plus die een in St. Lucia wat in November 2022 deur ‘n onvergenoegde groep plaaslike inwoners geplunder en tot op die grond afgebreek is.  Die skade beloop 2 miljoen Rand.  Niemand is in hegenis geneem of vervolg nie.

Meeste vuurtorings word deur Transnet bestuur en hulle amptelike lys sluit 45 vuurtorings in.  Daar is egter ‘n hele paar vuurtorings wat deur ander groepe bestuur word soos die lig op die Anglo-American gebou in Durban middestad, Stompneusvuurtoring en die vuurtorings in Simonsbaai wat deur die vloot instand gehou word.  Dit blyk ook of die breekwatervuurtorings nie tussen dié wat deur Transnet gelys word ingesluit is nie.

Het jy geweet dat elke vuurtoring uniek is?  Elkeen het ‘n eiesoortige kleurskema en patroon.  Wit, swart en rooi is die algemene kleure waarin Suid-Afrikaanse vuurtorings, maar ook ander lande se vuurtorings geverf is.  Ons het egter ook twee vuurtorings wat geel geverf is.  Sommige van die jonger vuurtorings is basies tralietorings van staal.  Hierdie tralietorings het ‘n sogenaamde dagteken wat uit ‘n driehoek, vierkant of ruitvorm bestaan waarmee die skepe die toring kan eien.

Daarbenewens het elke vuurtoring sy eie unieke ligsein.  Die grotes se ligte is wit, maar die breekwatervuurtorings se ligte wissel van wit, rooi na groen en flits aanhoudend.  Die groot vuurtorings se ligte flits op spesifieke tydintervalle.  Dit maak dit moontlik vir skepe om presies te sien waar hulle hulself rondom die kus van Suid-Afrika bevind.  Sommige vuurtorings, in gebiede waar digte mis aangetref word, het ook mishorings wat op ‘n sekere ritme beier.

Meeste van ons vuurtorings is geoutomatiseer, en is onbeman.  Talle van die ouer vuurtorings is Nasionale Monumente en daar is ‘n paar wat as museums ingerig is.  Daar is selfs vier vuurtorings waar slaapgeriewe is waar mens kan oornag, dit is die vuurtorings by: Groot Vispunt by Port Alfred, Danger Point by Gansbaai, Kaap St. Blaize by Mosselbaai en Kaap Columbine by Paternoster.

Vuurtoring

Jaar

Ligging

Sein

Port Nolloth

Driehoekige swart en wit gestreepte dagteken, punt na onder.

1909

29°14′59.29″S 16°52′06.55″O

Vier wit flitse in ‘n 3 plus 1 patroon, word elke 24 sekondes herhaal.

Hondeklipbaai

1956

30°18′31.94″S 17°16′14.69″O

Drie wit flitse elke 15 sekondes.

Groenriviermond

1988

30°51′54.28″S 17°34′45.51″O

Een wit flits elke 5 sekondes.

Doringbaai

1963

31°49′00.11″S 18°13′54.13″O

Twee wit flitse elke10 sekondes.

Stompneuspunt

1820

32°42′15.00″S 17°58′52.53″O

Wit flits elke 3 sekondes.

Kaap St. Martin, Brittaniabaai

Driehoekige dagteken, punt na onder

1977

32°42′54.02″S 17°55′15.80″O

‘n Rooi en wit flits in verskillende rigtings, elke 10 sekondes.

Kaap Columbine, Paternoster

1963

32°49′39.81″S 17°51′20.02″O

Wit flits elke 15 sekondes.

North Head, Saldhanabaai

2005

33°03′02.38″S 17°54′38.97″O

Drie wit flitse elke 20 sekondes.

Lynch Point, Langebaan 

Driehoekige dagteken, punt na onder.

33°03′47.33″S 18°03′06.13″O

Wit lig, 3 sekondes aan, 3 sekondes af.

South Head, Saldhanabaai

2000

33°06′20.41″S 17°57′15.52″O

Vier wit flitse elke 30 sekondes.

Dasseneiland

1893

33°25′55.63″S 18°05′20.15″O

Twee wit flitse, 10 sekondes uitmekaar.  Word elke 30 sekondes herhaal.

Robbeneiland

1865

33°48′52.86″S 18°22′26.65″O

Wit lig 5 sekondes aan, 2 sekondes af.

Milnerton, Kaapstad

1960

33°52′54.19″S 18°29′16.02″O

Drie wit flitse, 3.7 sekondes uitmekaar.  Word elke 20 sekondes herhaal.

Breekwater, Kaapstadhawe

33°53′51.78″S 18°26′03.91″O

Groen flits elke 2 sekondes

Groenpunt, Kaapstad

Dis die eerste en oudste werkende vuurtoring in Suid-Afrika.  Museum.

1824

33°54′05.23″S 18°23′59.75″O

Wit flits elke 10 sekondes.  Mishoring blêr elke 30 sekondes as daar mis is. 

Slangkoppunt, Kommetjie

1919

34°08′55.20″S 18°19′09.44″O

Vier wit flitse, 4 sekondes uitmekaar.  Word elke 30 sekondes herhaal.

Kaappunt, Diaspunt

1919

34°21′23.99″S 18°29′48.90″O

Twee wit flitse gevolg deur ‘n 12.3 sekonde pouse gevolg deur nog een wit flits.  Word elke 30 sekondes herhaal.  Rooi lig wat permanent aan die basis van die vuurtoring brand.

Simonstad-skeepswerf

1910

34°11′14.24″S 18°26′26.59″O

Wit lig 2.5 sekondes aan, 1.5 sekondes af.

Roman Rock, Simonstad

1961

34°10′52.60″S 18°27′36.45″O

Vinnig wit flits elke 6 sekondes.

Kaap Hangklip, Valsbaai

1960

34°23′12.05″S 18°49′40.03″O

Een wit flits elke 10 sekondes.

Danger Point, Gansbaai

1895

34°37′49.18″S 19°18′08.55″O

Drie 2 sekonde lange flitse elke 40 sekondes.

Quoin Point

Rooi diamantvorm dagteken

1990

34°46′50.20″S 19°38′22.65″O

Twee wit flitse, drie sekondes uitmekaar.

Kaap Agulhas

Tweede oudste vuurtoring in Suid-Afrika.  Museum.

1849

34°49′45.64″S 20°00′32.27″O

Een wit flits elke 5 sekondes. 

Kaap Infanta, De Hoop

Vierkantige dagteken

1979

34°28′19.29″S 20°50′44.87″O

Drie wit flitse elke 20 sekondes.

Ystervarkpunt, Gouritsriviermond

1964

34°23′33.47″S 21°43′41.05″O

Een wit flits elke 10 sekondes.

Kaap St. Blaize, Mosselbaai

Dit is die derde oudste vuurtoring in Suid-Afrika.

1864

34°11′09.36″S 22°09′23.31″O

Twee wit flitse elke 15 sekondes.

Mosselbaai Breekwater

34°11′30.56″S 22°08′49.17″O

Vinnig flitsende rooi lig.

Kaap Seal, Plettenbergbaai

1950

34°06′27.86″S 23°24′20.52″O

Twee wit flitse elke 30 sekondes.

Seal Point, Kaap St. Francis

1878

34°12′45.26″S 24°50′10.22″O

‘n Wit flits elke 5 sekondes.  Mishoring wat kort-lank-kort-lank (Morsekode vir die letter C) basuin.

Kaap Recife, Algoabaai

1851

34°01′44.64″S 25°42′02.38″O

Konstante wit lig wat vir drie 2.8 sekonde pulse nog helderder skyn en na elke 27 sekondes herhaal, met ‘n rooi lig wat oor die Thunderbolt Rif na die suid-suidooste skyn.

Deal, Papenkuil-riviermond

Vierkantige dagteken

1973

33°54′56.76″S 25°36′50.71″O

Wit flits elke 10 sekondes.

Bluewater Bay, Port Elizabeth

33°51′04.56″ S 25°37′56.15″O

Voëleiland, Algoabaai

1873

33°50′29.97″S 26°17′12.18″O

Twee wit flitse elke 20 sekondes.

Groot Vispunt, Port Alfred

1898

33°31′10.73″S 27°06′21.07″O

Wit flits elke 10 sekondes.

Hood Point, Oos London

1895

33°02′26.56″S 27°53′55.72″O

Vier wit flitse, elke 4,2 sekondes.

Nahoon Pointvuurtoring, Oos London

32°59′53.57″S 27°56′42.23″O

Wit flits elke 3 sekondes,

Kaap Morgan, Morganbaai

Gestreepte vierkantige dagteken,

1964

32°42′26.72″S 28°21′53.46″O

Twee wit flitse elke 10 sekondes.

M’bashe, Dwesa Natuurreservaat

1926

32°14′19.20″S 28°54′58.33″O

Drie wit flitse wat 5 sekondes en 16 sekondes uitmekaar is en na 38 sekondes herhaal word.

Kaap Hermes, Port St. Johns

1904

31°38′05.81″S 29°33′09.08″O

Wit flits elke 3 sekondes.

South Sand Bluff, Msikabariviermond

1931

31°19′39.30″S 29°57′39.83″O

Wit flits elke 10 sekondes

North Sand Bluff, Port Edward

1991

31°03′25.02″S 30°13′33.21″O

Twee wit flitse, 3 sekondes uitmekaar, elke 10 sekondes.

Port Shepstone

1905

30°44′31.10″S 30°27′31.96″O

Wit flits elke 6 sekondes.

Ifafastrand

Driehoek met punt na bo dagteken.

1980

30°27′47.56″S 30°39′07.36″O

Drie wit flitse elke 30 sekondes.

Green Point, naby Scottsburgh

1905

30°14′57.14″S 30°46′37.99″O

Twee wit flitse elke 15 sekondes met ‘n konstante rooi lig wat oos-suidoos oor die Aliwal rotse skyn.

Cooper, Brighton Beach, Durban

1953

29°56′08.47″S 31°00′18.12″O

Wit flits elke 10 sekondes.

Anglo-American Gebouvuurtoring

1986

29°51′28.39″S 31°01′19.30″O

Wit flits elke 7 sekondes.

Umhlanga Rocks

1945

29°43′42.83″S 31°05′17.25″O

Drie wit flitse elke 20 sekondes.

Tugela, Tugelariviermond

2007

29°13′21.16″S 31°30′15.22″O

Vier wit flitse elke 30 sekondes.

Durnford Point

1916

28°54′57.74″S 31°55′18.11O

Vier wit flitse in ‘n 3 plus 1 patroon, wat elke 40 sekondes herhaal word.

Richardsbaai-Noord-breekwater

28°48′21.83″S 32°05′52.43″O

Twee groen flitse elke 5 sekondes.

Richardsbaai

2018

28°46′30.47″S 32°07′40.42″O

Drie wit flitse elke 15 sekondes.

Kaap St. Lucia

In November 2022 deur die plaaslike inwoners tot op die grond afgebreek

1915

28°30′54.82″S 32°23′58.35″O

Kaap Vidalvuurtoring

1985

28°08′53.69″S 32°33′10.13″O

Wit flits elke 10 sekondes.

Jesser Point, Sodwanabaai

1986

27°32′41.35″S 32°33′40.81″O

Vier wit flitse, 4 sekondes uitmekaar wat elke 40 sekondes herhaal word.

Hier is ‘n opwindende aktiwiteit vir wanneer jy en jou familie weer see toe gaan.  Neem hierdie uitgawe van Beiteltjie saam en probeer om die vuurtorings wat jy sien bedags aan hulle unieke argitektuur, verfpatrone en merkers en snags aan hulle ligseine te identifiseer.  Besoek ook gerus die museums wat by drie van hierdie ou vuurtorings (Kaap Aghulas, Groenpunt en Donkin Heuwel) gehuisves word.  Dit sal ook pret wees om by van hierdie vuurtorings by Port Alfred, Gansbaai, Mosselbaai en Paternoster, wat in gastehuise omskep is, tuis te gaan en jou te verbeel hoe die lewe van ‘n oudtydse vuurtoringwagter was.  Onthou net dat jy in ‘n gebou by die vuurtoring gaan oornag en nie binne die vuurtoring, en veral nie langs die lig, nie!  In ‘n volgende uitgawe van Beiteltjie gaan ek julle van die bekende skeepswrakke rondom die Suid-Afrikaanse kus vertel en hoekom van hierdie vuurtorings juis op sekere plekke gebou is.

KNIP EN PLAK

Bou die oudste vuurtoring in Suid-Afrika:
Groenpunt Vuurtoring in Kaapstad (1824)

Die Groenpunt Vuurtoring in Kaapstad is die eerste vuurtoring in Suid-Afrika en is nog steeds in gebruik.  Die Goewerneur van die Kaapkolonie, Rufane Shaw Donkin, het opdrag gegee vir die bou van die vuurtoring en ‘n Duitse argitek Herman Shutte aangestel om dit te ontwerp.  Die bou van die vuurtoring het in 1821 begin en die vuurtoring was op 2 April 1824 in gebruik geneem.  Die boukoste het £6 420 beloop (ongeveer R20 miljoen vandag).

Walvisolie was in die oorspronklike Argand lamp van die vuurtoring gebruik. Hierdie lig was ongeveer 11 km ver op see sigbaar.  Die vuurtoring was in 1865 nog hoër gebou, sodat die lig verder sigbaar sou wees.  Die huidige lig, wat in 1922 geïnstalleer is, is ‘n dioptriese lig wat deur ‘n prisma deur ‘n roterende Fresnel lens, van 1,3 meter in deursneë en 1,1 meter dik, skyn en wat as ‘n helder ligflits tot meer as 40 km ver op see gesien kan word. Op 1 Julie 1966, was die rotering van die lig gestaak, sodat die sterk ligstraal op die wrak van die S.A. Seafearer kon skyn om die reddingsoperasie te vergemaklik.

Die Groenpunt vuurtoring se liggie skyn!

Die bedrading is in die toring (foto bo).  Die skakelaar se knoppie is agter op die toring (foto regs).  Ek het die glas van die ligkamer met skuurpapier geskuur om dit ondeursigtig te maak. 

UIT DIE TUIN

Waarom winter belangrik vir plante is

Winter is belangrik vir die oorlewing en gesondheid van plante vir die volgende redes:

Dormansie (winterrus):  plante se metabolisme verlangsaam soos wat dit kouer word om energie en hulpbronne te bewaar.  Hierdie proses word deur die korter dae en kouer temperature geaktiveer.

Vernalisasie: Sommige plante benodig ‘n koue periode van ‘n sekere hoeveelheid dae of weke om blomvorming tydens lente te aktiveer.  Sekere spesies soos rog, gars, kersies en selfs appels en perskes het koue nodig om in die lente te blom en om groot opbrengste te lewer.

Saadrus: talle plante se sade het koue nodig voordat dit kan ontkiem.  Dit verseker dat die sade slegs op die regte tyd van die jaar, wanneer omstandighede optimaal is, ontkiem, eerder as wat dit tydens die winter ontkiem, wat die oorlewing van die jong plantjie sal belemmer.

Pesbeheer: koue winters laat groot getalle volwasse insekte, hulle larwes, papies en eiers op ‘n natuurlike manier, sonder pesbeheermiddels, vrek.  Natuurlik is die insekte aangepas om die koue ook te oorleef, maar in baie kleiner getalle as wat andersins sou gebeur het.  Koue temperature inhibeer ook swamme.

Grondgesondheid: koue winters dra by tot die gesondheid en vrugbaarheid van die grond deur verskeie fisiese en biologiese prosesse wat in die grond gedurende die winter plaasvind.  Dit sluit die verrotting van organiese materiaal, soos die dooie blare wat in die herfs geval het, in die grond in, maar ook die opbou van voedingstowwe wat plaasvind, omdat die plante in die winter dormant is en dit nie tydens die winter gebruik nie.  Dit bedoel dat daar baie voedingstowwe in die grond opbou, wat vir die plante in die lente, wanneer hulle uit hul winterrus kom, beskikbaar is.

KUNS & KUNSVLYT

Die Duitse kunstenaar wat saam met die Boere geveg het.

Erich Karl Meyer was in 1878 in Karlsruhe in Duitsland gebore.  Hy het in Berlyn skoolgegaan, maar kon nie met sy studies in kuns voortgaan nie, omdat hy nie die klasgelde kon bekostig het nie.  Hy het egter ‘n beurs om vir argitektuur te studeer gekry maar moes dit in 1896 weens gesondheidsredes staak.  Na ‘n siekbed van twee jaar het hy besluit dat dit meer voordelig vir sy gesondheid sou wees as hy na ‘n land met ‘n sonnige en droeër klimaat verhuis, en so het hy in 1898 na Suid-Afrika gekom.  Die klimaat hét hom goed gedoen en hy is kort na sy aankoms as Assistent Landmeter in Vrede in die Oranje Vrystaat aangestel.

Mayer was net betyds hier om aan die Boereoorlog deel te neem.  Hy het by ‘n kommando in die Oranje Vrystaat aangesluit maar was my Mafikeng gevange geneem en na St. Helena as krygsgevangene weggevoer.

Mayer het tydens die Anglo-Boereoorlog en by St. Helena die Boeregemeenskap en mede-krygsgevangenes geskets.  Hy was vanaf St. Helena na Duitsland gerepatrieër, maar nadat hy weer siek geword het, het hy in 1904 na Duitswes Afrika (nou Namibië) verhuis waar hy verder geskilder het.  Hy het in 1907 en 1909 na Duitsland vir verdere kunsopleiding teruggekeer.

Mayer was toegelaat om in 1911, na Uniewording, weer na Suid-Afrika terug te keer en hy het homself eers in Port Elizabeth, toe Potchefstroom en laastens in Pretoria gevestig.  In Pretoria is hy as kunstenaar by ‘n koerant aangestel en het ander kunstenaars soos Pieter Wenning en JH Pierneef ontmoet.  Hy het Pierneef houtsneekuns geleer.  In 1914, met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het die Smuts-regering hom, weens sy Duitse

herkoms, vir 21 maande as gevangene in Pietermaritzburg aangehou.  In 1916 toe hy op parool vrygelaat is, het Mayer deur die Transvaal gereis en geskilder, geteken en uitstallings in Transvaal en Stellenbosch gehou.  In 1921 tot 1925 het hy homself in Johannesburg gevestig.

In 1928 trou Mayer met Margaretha Gutter getrou en die twee het saam per karavaan deur die land gereis waar hy die

landskap en mense geskilder het.  Mayer het kunswaardering onder die plattelandse boeregemeenskappe bevorder en sy werke het baie populêr geword.  In 1931 vestig hy homself in Pretoria waar hy en sy vrou in 1933 ‘n spin- en weefskool gestig het.  In 1935-1936 gaan hy Florence toe om verder kuns te studeer.  Met sy terugkeer het hy weereens deur die Transvaal gereis, geskilder en uitstallings gehou. 

In 1943 ontvang hy ‘n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy skilderwerk.  Mayer was deur die allerdaagse eerder as die heroïese geïnspireer en sodoende het hy ‘n ewige nalatenskap van die Afrikaanse gemeenskap en die platteland deur sy kuns geskep. Erich Mayer is in 1960 in Pretoria oorlede.

Mens kan van sy kunswerke in die Pretoria Kunsmuseum, die Johannesburgse Kunsgallery, die AC White-galery in Bloemfontein, die William Humphreys Gallery in Bloemfontein en die Oorlogmuseum in Bloemfontein sien.

KOM SPEEL SAAM

Skadufigure

Jare gelede was mense baie armer as wat ons vandag is en het baie minder besittings, insluitend speelgoed gehad, maar hulle kon speel dat dit klap met die bietjie wat hulle gehad het.  Hulle het letterlik speelgoed uit blikkies, draad, klippies en stokkies gemaak.  Die een ding wat almal van ons het en niks kos nie is ons hande.  Met ‘n lig, bietjie verbeelding en oefen, kan jy jou hande gebruik om stories lewendig te maak.

Mens kan natuurlik jou hond hierbo in ‘n wolf verander as die storie dit verlang en die konyn kan ‘n wilde haas word as jy die storie van die haas en die skilpad vertel.

BLOKRAAI

1 af: Die buitenste laag van die Son tussen die stralingsone en die atmosfeer.

2. Die ring rondom die umbra van ‘n sonvlek waarin mens filamente kan sien.

3. Die tipe baan waarin planete rondom die Son beweeg.

4. ‘n Positief of negatief gelaaide atoom of molekule.

5. Die element wat deur kernfusie van waterstof in die kern van die Son vorm.

6. Die Latynse woord vir nuut.

7. Die swart lyne wat mens in die spektrum van die lig van die Son kan sien wat dui op die teenwoordigheid van sekere elemente in die Son.

8. Die eenheid waarin die sterkte van ‘n magneet gemeet word.

9. Enige voorwerp wat in die ruimte is vanaf ‘n asteroïed, ‘n maan, planeet of ‘n ster.

10. Die proses waardeur stof, ys, asteroïede saampak om ‘n groter hemelliggaam te vorm.

11. Die eenheid waarin absolute zero in temperatuur in die heelal gemeet word.

12. Die elektromagnetiese golwe wat net langer golflengtes het as sigbare lig.

13. Wanneer die Maan tussen die Aarde en die Son inbeweeg.

14. Die tydperk waarin ‘n hemelliggaam een keer om sy eie as draai.

15. Die Afrikaanse benaming vir ‘n astronoom.

16. Die elektromagnetiese golwe met die kortste golflengtes.

17. Die grondstowwe waaruit alle materie opgebou is.

18. Die oorblyfsels van ‘n supernova ontploffing.

19. Die plasmakoepels wat mens in die fotosfeer tydens ‘n sonsverduistering kan sien.

20. Grieks vir ster.

21. Ons plaaslike ster.

22 dwars: Die struktuur in die middel van ‘n atoom.

22 af: ‘n Asteroïed van ys en stof wat ‘n gasstert ontwikkel wanneer die son dit verhit.

23.  Iets wat nie geskep of vernietig word nie; maar slegs van een vorm na ‘n ander omgeskakel word.

24. Die deursigtige laag van die Son se atmosfeer bo die fotosfeer.

25. Die Griekse god van die son.

26. Die positief gelaaide deeltjie binne ‘n atoom se kern.

27. Die deel van ‘n ronde hemelliggaam wat op die 0° breedtegraad lê.

28. Die buitenste deel van die Son se atmosfeer wat die hele heliosfeer vul.

29. Die vierde fase van materie wat uit warm, geïoniseerde gas bestaan.

30. Die atoomdeeltjie wat ‘n negatiewe lading het en rondom die atoomkern spin.

31. Die tipe hemelliggaam in grootte tussen ‘n asteroïed en ‘n planeet.

32. Die kleinste kwantum van lig of elektromagnetiese straling.

33. Die mees algemene element in die heelal.

34. Kanaalagtige strukture van plasma wat deur die Son se magneetveld gevorm word.  

Die raaisel van die vyf vuurtorings

• Daar is 5 vuurtorings, elk met ‘n unieke kleur langs mekaar op die kus, genommer van 1 tot 5 van wes na oos.

• Elke vuurtoring is uit ‘n ander materiaal gebou.

• Elke vuurtoring het ‘n ander ligsein.

• Elke vuurtoring is deur ‘n ander spesies dier omring.

1. Vuurtoringwagter Smit is in beheer van die rooi vuurtoring.

2. Albatrosse broei rondom die vuurtoring waar vuurtoringwagter Joubert in beheer is.

3. Vuurtoringwagter Botha beheer die staalvuurtoring.

4. Die swart vuurtoring is links langs die wit vuurtoring.

5. Die swart vuurtoring is van klip gebou.

6. Die vuurtoring wat 2 flitse elke 20 sekondes sein, is deur robbe omring.

7. Die geel vuurtoring sein 2 flitse elke 10 sekondes.

8. Die middelste vuurtoring is van beton.

9. Vuurtoringwagter Van der Merwe beheer die vuurtoring heel wes.

10. Die vuurtoring wat 3 flitse elke 30 sekondes sein, is langs die een waar die malgasse broei.

11. Die vuurtoring by die seemeeue is langs die een wat 2 flitse elke 10 sekondes sein.

12. Die vuurtoring wat 2 flitse elke 15 sekondes sein, is uit gietyster gebou.

13. Vuurtoringwagter Bruwer se vuurtoring sein 4 flitse elke 20 sekondes.

14. Van der Merwe se vuurtoring is langs die silwergeverfde ene.

15. Die vuurtoring wat 3 flitse elke 30 sekondes sein, is langs die baksteenvuurtoring.

Vraag: watter vuurtoringwagter moet heeldag na die geluide van pikkewyne luister?

Leidraad: stel ‘n tabel op waar jy die posisie van elke eranderlikes lys soos jy dit deur ‘n proses van eliminasie uitwerk.

BRIEF AAN OUERS

Digitale toestelle en die kleuter se brein

Die vermoë om kommunikeer en die gedrag van ander mense te verstaan is ‘n voorvereiste van effektiewe sosialisasie.  Die enigste manier hoe ‘n kind kan leer om suksesvol te kommunikeer is met behulp van gesig-tot-gesig interaksies met ander mense.  Die kind se sosialiseringsontwikkeling is direk gekoppel aan die ontwikkeling van hulle senuweestelsel, maar veral die brein.

Die vervanging van menslike interaksie met digitale alternatiewe verhinder en inhibeer die kind se kommunikasievermoëns en die gebrekkige ontwikkeling van hierdie lewensnoodsaaklike vaardigheid veroorsaak sosiale disfunksie en angs in die kind.

Wanneer ouers of oppassers kleuters voor ‘n TV sit, of ‘n selfoon of tablet in die hand stop, omdat hulle te besig met ander dinge is, besef hulle nie watter diepgaande en onomkeerbare skade hulle aan hul kinders se breinontwikkeling doen nie.  Kleuters wil nie net brabbel en speel nie – hulle moet brabbel en speel anders ontwikkel hulle senuweestelsel, spiere, skelet en belangrike aspekte van hulle fisiologie nie normaal nie.

Die blootstelling aan die digitale media is veral skadelik vir kleuters wat presies in hierdie kwesbare tydperk deur die grootste deel van hulle breinontwikkeling gaan.  Wanneer mense opgewonde raak dat hulle kleuters woorde leer en begin praat, moet hulle ook besef dat dit die funksie van die ontwikkelende brein is.  Breinontwikkeling moet ook met beweging, wat mense andersins bloot as speel beskou, gepaard gaan – dit is nie verniet dat die Motoriese Korteks tussen die dele van die brein wat taal beheer, die Sentrums van Broca en Wernicke, sit nie en dat die boogbundel, wat die twee konnekteer, deur die Motoriese Korteks gaan (sien Beiteltjie 1.6).

As die neurologiese skade ver genoeg gevorder het, ontstaan ‘n negatiewe terugvoerkring – die kind wat nie sosiaal kan funksioneer nie, vermy nou instinktief sosiale interaksie met ander mense en vind ‘n veilige hawe in die digitale wêreld waarin hy ankerloos verlore raak.

Die ergste van die kind se blootstelling aan die digitale wêreld is nie bloot die agterstand in ontwikkeling nie of die onvermoë om sy ontwikkelingsmylpale enigsins te bereik nie, dis die breinskade wat hy daardeur opdoen wat hom permanent agterlik maak.  Hoe langer en hoe meer kinders aan digitale media blootgestel word, hoe laer is hulle IK (sien Beiteltjie 1.8).

Die beweging op skerms, saam met die kleure en klanke veroorsaak dat reuse hoeveelhede dopamien in die brein afgeskei word.  Die stimulasie van sekere dele van die brein gepaardgaande met die onderontwikkeling van ander belangrike dele van die brein, wat op hierdie stadium moet ontwikkel, veroorsaak strukturele skade en funksionele veranderings in die kind se frontale, pariëtale, temporale en oksipitale lobbe, die brein se konnektiwiteit en breinnetwerke.  Die mees sensitiewe deel wat hierdeur negatief beïnvloed word is die prefrontale korteks wat vir uitvoerbeheer verantwoordelik is.

Hoe vroeër en hoe langer ‘n kleuter aan skerms blootgestel word hoe groter is sy agterstand in taalontwikkeling en kognitiewe agteruitgang tot dit heeltemal onmoontlik is vir die kind om enigsins normaal te kommunikeer, dink, leer, probleemoplossing te bemeester of impulsbeheer en uitvoerbeheer te hê.  Selfs die senuwee, spier en skeletselsels van so ‘n kind, wat eerder moes gespeel het en so koördinasie, fyn en groot motoriese funksies, oorkruis-bedrading van die senuweestelsel moes ontwikkel het, is gekompromiteer want ‘n skermverslaafte kind sit stil en hardloop nie rond nie.

Studie na studie het tot dieselfde slotsom gekom: wanneer kleuters van kleins aan digitale toestelle blootgestel word, lei dit tot permanente neurologiese skade wat hulle vir die res van hulle lewens sal inperk.  Opvoeding is veronderstel om op moederskoot en in die huis by die gesin plaas te vind en in totale afwesigheid van digitale toestelle, dit wil sê as jy normale kinders wil hê.

Volgende keer gesels ek oor die effek van die digitale wêreld op skoolgaande kinders.

François Durand
Rig alle korrespondensie aan: beiteltjie@yahoo.com



Verwysings:

Hutton, J.S., Dudley, J., DeWitt, T. et al. (2022).  Associations between digital media use and brain surface structural measures in preschool-aged children. Sci Rep, 12, 19095.

Nivins, S., Sauce, B., Liebherr, M. et al. (2024) Long-term impact of digital media on brain development in children. Sci Rep, 14, 13030.

Takahashi, I.; Obara, T.; Ishikuro, M. et al (2023). Screen Time at Age 1 Year and Communication and Problem-Solving Developmental Delay at 2 and 4 Years. JAMA Pediatrics, 177;(10):1039-1046.

Van den Heuvel, M. et al., (2019). Mobile Media Device Use is Associated with Expressive Language Delay in 18-Month-Old Children. Journal of Developmental and Behavioral Pediatrics, 40(2): 99–104.

Wu, D.; Dong, X.; Liu, D. & Li, H. (2024). How Early Digital Experience Shapes Young Brains During 0-12 Years: A Scoping Review – Early Education and Development, 35 (7): 1395-1431. 

Volgende maand in Beiteltjie

Vind alles uit oor wind en windenergie.

Die seisoen draai en die lente-winde waai!  Dis vlieër-tyd!

Planne om jou eie vlieërs te bou.

Vind alles uit oor pampoene.

   Bak pampoenkoekies nes ouma!

Bestel direk van die uitgewers: https://naledi.co.za/boekwinkel/